MEER OOR ONS
Ontmoet die skoolhoof
Jubilee Kampus se fondament is gebou op Psalm 23:6 “Net goedheid en guns sal my volg al die dae van my lewe; en ek sal in die huis van die Here bly in lengte van dae.”
As ek dink oor my professionele lewe kan ek nie anders as om net van dankbaarheid oor God se goedheid en guns te getuig nie. Alle eer en lof aan die Here.
Ek is sedert 2010 aan die stuur van sake by aanvanklik Heidi Kleuterkampus en nou Jubilee Kleuterkampus. Ons het in 2023 ‘n nuwe Skool geopen in Billinghamstraat 48, Sasolburg. Die tyd was reg vir ‘n naamsverandering want die Heidi naam het geskreeu om vernuwing en so is Jubilee Kampus gebore.
Jubilee Kampus is my lewensdoel. Ek glo dat ek deur die Here geroep is om hierdie werk te doen. Vir my is hierdie dus nie net ‘n beroep nie, maar ‘n absolute passie. Ek is baie bewus van die groot verantwoordelikheid wat op my skouers rus en daarom kan u verseker wees dat u kind altyd my eerste prioriteit sal wees. Ons leuse is dink, leer, floreer en dit omvat ons totale benadering tot opvoedkundige ontwikkeling. Hiermee die strategie wat ons volg:
Dink
Dui op die ontwikkeling van kognitiewe vaardighede. Navorsing het bewys dat kognitiewe vaardighede ‘n bepalende faktor van ‘n individu se leervermoë is. Wanneer kognitiewe vaardighede sterk is, word leer vinnig en maklik. Wanneer kognitiewe vaardighede swak is, word leer ‘n worsteling. Die belangrikheid hiervan is dus ononderhandelbaar by Jubilee Kampus.
Leer
‘n Kind leer met sy/haar lyfie en dit is van kardinale belang dat hulle beweeg, leer en speel. Groot motoriesevaardighede en fyn motoriesevaardighede lê die grondslag vir baie. Ons fokus verder op die ontwikkeling van taal en sosiale vaardighede. Om die natuur te verken en met verskillende teksture en media te eksperimenteer, verhoog kreatiwiteit en verbeelding. Musiek en beweging is verweef met wiskundige vermoëns en redenasievaardighede.
Floreer
Die grondslag wat Jubilee Kampus lê verseker dat ons leerders selfversekerd is met ‘n baie goeie selfbeeld. Dit stel leerders in staat om te floreer regdeur hulle skoolloopbaan.
Ons Visie
Jubilee Kleuterkampus en Nasorgsentrum streef daarna om ‘n skool te wees:
- met integriteit;
- met onverbeterlike standaarde wat uitstyg bo die res;
- wat bereid is om die ekstra myl te loop vir ouers en kinders.
Ons Missie
Jubilee Kleuterkampus & Nasorgsentrum streef daarna om kinders met liefde in ‘n veilige en netjiese omgewing op te voed en te onderrig. Die eindresultaat is kinders met selfvertroue wat hul volle potensiaal kan bereik om môre se leiers te wees.